NG Kerk (Afr)

by Eben Swart 21 Jun 2010 Download prayer in PDF format
'n Verloëningsgebed vir diegene wie se voorouers, of wat self lede is of was van die NG Kerk.

  1. Ek verloën Rooms Katolisisme en elke sodanig oorblywende lering wat steeds in die Nederduits Gereformeerde Kerk geleer word sedert die Reformasie. In die Naam van Jesus Christus sny ek myself los van die Rooms Katolieke Kerk en die misleidende gees van Augustinus van Hippo - via Johannes Calvyn die geestelike vader van die meeste van sy doktrines.
  2. Ek verloën die Sakrament van die Kinderdoop en die doktrine wat sê dat die doop in die plek van die Ou Testamentiese besnydenis gekom het, en daarom aan kindertjies bedien moet word vóór bekering. Ek sny myself los van hierdie Rooms Katolieke, en dus antieke heidense wortels, wat manifesteer in die vorm van Son/Baal-aanbidding.
    1. In die Naam van Jesus Christus sny ek myself en my nageslag los van enige watergeeste wat 'n houvas op my lewe kon bekom het dmv die kinderdoop, sowel as van enige effek, wettige reg of mag wat hulle in my lewe, of die lewe van my nageslag mag hê.
    2. Ek bely my eie, sowel as die sondes van my voorvaders en -moeders wat sodoende Baal (of die Son) aanbid het. In die Naam van Jesus Christus sny ek myself los van hierdie valse verbond wat tussen my en my ouers, en die Songod (of Nimrod/Baal/Osiris/Ra) gesluit is. Here Jesus, ek bid dat U hierdie simboliese en geestelike merk van die Songod van my voorkop, waar dit fisiek tydens die ritueel aangebring is, sal verwyder. Bring asseblief U eie Naam op my voorkop aan, die merk van die Vader en die Lam (Op. 14:1).
    3. Here Jesus, vernietig asb. elke teken of simbool van hierdie valse verbond met die vuur van U Heilige Gees. Maak my skoon van elke verontreiniging en vloek wat op my gekom het dmv hierdie verbond (bv. geestelike hoogmoed, geestelike selftevredenheid, geestelike kragteloosheid, geestelike blindheid, ens). (Vernietig die Doopseël fisiek). In die Naam van Jesus breek ek hierdie demoniese seël oor my lewe en die lewens van my nageslag (Op. 5:5). Ek verklaar dat ek in die verbond met Abraham en sy geestelike nageslag ingesluit is slegs deur geloof in Jesus Christus (Gal. 3:7).
    4. Here Jesus, ek bid dat U deur U bloed alle getuies en getuienis wat in die geesrealm teen my en my nageslag getuig ivm die kinderdoop, sal stil maak. Ek bid dat U en U Heilige Gees as intersessors vir my en my nageslag sal intree voor die Vader in hierdie verband (Rom 8: 26, 27, 34).
  3. Ek verloën die verklaring dat ek lidmaatskap van die Liggaam van Christus en toegang tot die nagmaal verkry dmv 'n verbond wat met die Kinderdoop verseël word, tesame met die openbare belydenis van my geloof (soos in die formulier beweer word). Ek verklaar dat ek aan die Liggaam van Christus behoort deur geloof, uit genade, en ook deur geloof toegang tot die nagmaal verkry. Ek glo dat die Skrif verklaar: As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered. - Rom. 10:9 - 10.
    1. Ek verloën die plegtige eed wat ek voor getuies aan die NG Kerk gemaak het dat ek "in die belydenis van die leer [soos dit in die NG Kerk geleer word] tot die einde van my lewe sal volhard, en alle leringe wat daarvan afwyk, sal verwerp." Ek bid, Here Jesus, dat U nou hierdie geestelike kontrak sal opskeur en dit met U Bloed sal bedek. Ek sny myself los van enige geestelike invloed wat hierdie valse verbond op my en my familie mag hê.
    2. Ek verloën die plegtige eed wat ek voor getuies afgelê het dat ek my onderwerp aan (by implikasie spesifiek die NG) Kerk se opsig en tug. Ek bely dat die vereising van so 'n belofte om toelating tot die Liggaam van Christus te verkry, indruis teen die Gees van die Skrif, en ooreenstem met die gees van Paganisme, Vrymesselary en ander geheime organisasies - waarvan die rituele soortgelyke "strafklousules" bevat.
    3. In die Naam van Jesus Christus sny ek myself los van enige gees van verwerping, vervreemding of veroordeling wat oor my eie of die lewens van my gesin kon gekom het agv tugstappe wat deur die NG Kerk teen my, my voorouers of my gesin geneem is itv doop-aangeleenthede. Jesus, ek bid dat U elke wond wat deur hierdie tugstappe toegedien is, sal genees.
    4. In die Naam van Jesus Christus breek ek die vloek van Gal. 1:8 - 9 (wat op individue gelê word wat van die leer van die NG Kerk afwyk) oor my lewe.

  4. Ek verloën die seël van die NG Kerk in sy totaliteit:
    1. Dit bevat die volgende allegoriese betekenisse (dws dit het 'n dubbele betekenis: 'n ooglopende een, sowel as 'n verskuilde een) en okkultiese simbole:
      1. Die Hemelkoningin of Cybele wat by baie waters sit (uitgebeeld as die Dame van Goeie Hoop met 'n anker, en ook as Geloof waar sy 'n boek vashou).
      2. Die Romeinse godin Cybele en haar Geheimenisse, en haar sleutel waarmee sy sogenaamd die hemelpoorte oop- en toesluit [nie op die seël uitgebeeld nie].
      3. Die "lang" kruis - kenmerkend van die Hemelkoningin in Vrymesse-lary en Rooms Katolisisme.
      4. Die Vrymesselaars-altaar.
      5. Die "brandende hart" as synde die sg. "heilige hart van Jesus" wat in Rooms Katolisisme aanbid word.
      6. Die Vrymesselaars se afgewerkte steen (die "smooth ashlar" of "kubus" waarop sy sit) wat kenmerkend is van die Egiptiese godin Isis.
      7. Die handelskip van Babilon.
      8. Die beherende "orde" wat dmv die geheime organisasies Vrymesselary en Broederbond onder die dekmantel van 1 Kor. 14:40 in die NG Kerk afgedwing word.
      9. Die Songod (Nimrod/Osiris/Baal/Ra).
    2. In die Naam van Jesus Christus verloën ek die Stad van Babilon en sny myself los van haar, van haar towerkrag, geldmag, seksualiteit, afgodsdiens, musiek en heksery. Ek verloën elke kontrak met hierdie stad, asook haar mag oor my en my gesin. Ek verloën die rykdom van haar skepe en handelsware (Op. 18:17), soos uitgebeeld op die seël van die NG Kerk. Ek verklaar 'n geestelike egskeiding tussen my en my gesin, en die Stad van Babilon.
    3. In die naam van Jesus verloën ek, en sny myself los van enige maan-aanbidding en verbintenisse wat ek via die NG Kerk se Hemelkoningin-simboliek aangegaan het. Ek bely hierdie simboliek as heidens en Rooms.
    4. Ek sny myself en my gesin los van die gees van homoseksualiteit, sodomie en lesbianisme wat ek deur my onderwerping aan hierdie simboliek kon opgedoen het.
    5. In die Naam van Jesus sny ek my en my gesin los van die Hoer van Babilon wat by baie water sit (Op. 17:1), sowel as die gees van Isébel. Ek sny myself ook los van enige mag wat hierdie Seël en gees oor my en my gesin mag hê. Here Jesus, ek verklaar dat die Lam van God die Een is wat waardig is om alle seëls oop te maak (Op. 5:5), en vra dus in U Naam dat hierdie seël oor my lewe gebreek word.
    6. Ek verloën die geestelike baarmoeder, of kammossel (scallop shell), waaruit die Hemelkoningin (Venus, Semiramis, Isis) na bewering gebore is uit die see (Soos uitgebeeld op die Kweekskool te Stellenbosch). In die Naam van Jesus sny ek my en my gesin los van die waters van die aarde en die geesrealm, en sny ek elke geestelike naelstring wat my met sodanige waters verbind.

    7. Ek verloën Juno, die Romeinse manifestasie van die Hemelkoningin, wat uitgebeeld word as 'n neerdalende duif op die NG Kerk logo.
  5. Ek verloën die geheime organisasie van Vrymesselary, en elke gees wat met hierdie organisasie gepaard gaan.
    1. Ek verloën die drie manifestasievorme van die Hemelkoningin in hierdie beweging, naamlik Geloof, Hoop en Liefde (Faith, Hope & Charity).
    2. Ek verloën elke Vrymesselaarsimbool wat in en rondom NG Kerke gebruik word, soos:
      1. die pilare van Jakin en Boas, wat by vele NG Kerkgeboue se ingange aangebring is. Ek verklaar dat die kerk wêreldwyd, die Liggaam van Christus, sowel as die liggaam van elke gelowige individueel, die tempel van God is, en nie enige kerkgebou wat pilare dra by sy hoofingang soos die Ou Testamentiese tempel van Salomo nie.
      2. die obelisk (wat op grafte by NG Kerke voorkom) en die geeste van Egipte en die dood wat daarmee gepaard gaan.
      3. die gevormde steen ("smooth ashlar" waarop die Hemelkoningin sit op die NG Kerk Seël) en die geestelike selftevredenheid, valse rus en valse outoriteit wat daarmee gepaard gaan.
      4. die Vrymesselaars-altaar (waarby die Hemelkoningin sit op die NG Kerk Seël) en die vals drie-eenheid van Osiris, Isis en Horus wat daarmee gepaard gaan (die drie ligte van Vrymesselary).
  6. Ek verloën die leer van Uitverkiesing soos vervat in die Dordtse Leerreëls (1618).
    1. Ek verwerp die wyse waarop die Dordtse Leerreëls tot stand gekom het, naamlik:
      1. Dat die Remonstrante (volgelinge van Jacob Armenius, wat van mening was dat Goddelike uitverkiesing nie 'n mens se Ewige Lotsbestemming bepaal nie, maar 'n wilsbesluit ten gunste van Christus) nooit in debat verslaan is nie, maar bloot uit die sinodesaal gejaag is.
      2. Dat daar ná die Remonstrante se verjaging oorgegaan is tot die veroordeling van die Remonstrante in die opstel van die Dordtse Leerreëls.
      3. Dat die voorsitter van die Dordtse Sinode, 'n Vrymesselaar, en dus 'n priester van heidense gode was.
      4. Dat hierdie voorsitter, Johannes Bogerman, die proses van alle integriteit ontneem het toe hy, na vrugtelose argumente van beide sienswyses, die Remonstrante uit die sinodelokaal gejaag het.
      5. Die "suiwering" van die kerk van Arminiaanse leraars dmv die ontsetting van sowat 200 oorblywende predikante wat nié die Dordtse Leerreëls wou onderskryf nie.
      6. Die teregstelling van Oldenbarneveldt deur die owerheid.
    2. Ek bely dat die gelowige in Christus uitverkies is (Ef. 1:4), dat God die gelowige uit genade roep (Rom. 9:13; Op. 17:14) en uitverkies, en dat die gelowige in geloof op hierdie roepstem moet antwoord (Op. 3:20).
  7. Ek sny myself en my gesin los van die kragte en invloed van die songod - die god van Vrymesselary, sowel as die Alsiende Oog van Horus, 'n Egiptiese god, wat valslik in sommige NG Kerke uitgebeeld word as die "Alsiende Oog van God."
    1. In die Naam van Jesus Christus kanselleer ek elke woord wat in die sonkamers ingeprogrammeer is en deur my voorgeslagte verseël is deur hierdie verbonde.
      Here Jesus, ek bid dat U al hierdie stemme sal stil maak met U bloed.
    2. In Jesus se Naam verbreek ek die beheer wat enige siklusse van die songod op my lewe mag hê (bv. seisoene van teenspoed, of slegte ure van die dag of nag). In Jesus se Naam sny ek my los van die invloed wat die son se strale oor my en my gesin mag uitoefen (Ps. 121:6).
  8. Ek verloën die wortels van Apartheid - wat die NG Kerk vir 'n sekere tydperk in die SA geskiedenis gekondoneer het - sowel as rassisme. Ek bely elke rassistiese daad waaraan ek skuldig is, en vra Jesus Christus van Nasaret om hierdie sondes in Sy Naam te vergewe. In die Naam van Jesus sny ek my en my gesin los van die vloeke wat met sodanige dade en gesindhede gepaard gaan.
  9. Ek verloën die voormalig geheime organisasies van die Broederbond en die Ossewa Brandwag, waarvan honderde leiers en lidmate van die NG Kerk lede was.
    1. Ek bely enige gevoelens en behoeftes aan grypsug, wellus na mag en beheer, en die kulturele hoogmoed en meerderwaardigheid wat my voorouers tot lidmaatskap van hierdie geheime organisasies gelei het.
    2. Ek bely die bydrae wat my voorouers dmv die Broederbond en die NG Kerk gemaak het tot die drakoniese Apartheidswette, asook die onbeskryflike trauma wat hierdie wette vir miljoene van my landgenote veroorsaak het.

Here Jesus, ek vra om vergifnis hiervoor, en om reiniging deur U bloed.
Ek verklaar dat voor God daar geen onderskeid tussen rasse en nasionaliteite is nie (Rom. 10:12), dat God sy son laat opkom oor die slegtes en die goeies, en dit laat reën oor dié wat goed doen, sowel as dié wat sleg doen (Mat.5:45).

Bylae



Formulier vir die openbare belydenis van geloof: (NG Kerk)



Geliefdes in die Here Jesus Christus

Die openbare belydenis van geloof is ingestel om aan verbondskinders die geleentheid te gee om persoonlik voor God en die gemeente rekenskap van hulle geloof te gee. So antwoord hulle op die toesegging van God se beloftes in die doop.

Om belydenis van geloof af te lê, beteken dat julle met die mond bely wat julle ook met die hart glo, naamlik dat Jesus die Here is. Dit is 'n belofte wat julle maak om alleen op Hom te vertrou, om te lewe volgens sy Woord, getrou deel te neem aan die erediens en aan alle aktiwiteite van sy kerk, om te volhard in die gebed en om God op alle terreine van die lewe deur woord en daad te verheerlik.

Voorts beteken die openbare belydenis van geloof dat julle verklaar dat dit julle opregte voorneme is om in hierdie belydenis te volhard en steeds daarin te groei.
Aangesien julle die kerkraad oortuig het van julle genoegsame kennis van die Bybel en van die leer van die kerk en van julle persoonlike geloofsvertroue, het die kerkraad met blydskap toestemming verleen dat julle in die openbaar julle geloofsbelydenis mag aflê en so toegang kry tot die nagmaal. Daarom versoek ek julle om voor God en sy gemeente op die volgende vrae opreg te antwoord:

Ten eerste: Glo jy dat die leer soos in die Ou en Nuwe Testament en in die artikels van die Christelike geloof vervat is en in die kerk hier geleer word, die ware en volkome leer van die verlossing is?

Ten tweede: Beloof jy om as lidmaat van die gemeente van Christus deur sy genade in die belydenis van die leer tot die einde van jou lewe te volhard, en alle leringe wat daarvan afwyk, te verwerp?

Ten derde: Bely jy dat die Here Jesus Christus jou persoonlike Verlosser is en dat jy Hom liefhet? Beloof jy om Hom te dien, sy Naam getrou te bely voor die mense en om aktief aan die werksaamhede van die kerk deel te neem?

Ten slotte: Beloof jy dat jy jou onderwerp aan die kerklike opsig en tug?

Antwoord: Elkeen afsonderlik, hardop "Ja". (Die groep kan die Credo saam hardop sê).

Op grond van die genadeverbond, soos verseël deur die doop, en kragtens die belydenis wat julle so pas afgelê het, word hiermee verklaar dat julle belydende lidmate is van die Nederduitse Gereformeerde gemeente van …

In die goeie wedloop van die geloof moet julle al julle kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal. Daartoe het God julle geroep en het julle die goeie belydenis voor baie getuies afgelê.

Gemeente, sien om na hierdie lidmate, ontvang hulle as mede-lede van die liggaam van Christus. Moedig hulle aan tot liefde en goeie werke en bid vir hulle. Leef in liefde met mekaar saam, want ons Heiland het gesê: "As julle mekaar liefhet sal almal weet dat julle dissipels van My is."
Scroll down to comments
Barry Nel 5 Feb 2016 at 14:16
Middag Eben. Ek is n massiewe "fan" van jou leerings. Wil net graag vra , het jy enige leerings oor die Broederbond ?
Ek het wel vir my die Boek gekry vandag Die Super Afrikaners, maar sal n tydjie neem om deur te werk.
Ek wag graag vir jou antwoord.
Baie dankie
comment on this
Eben Swart 11 Feb 2016 at 22:18
"The Super Afrikaners" bevat die mees omvattende inligting oor die Broederbond, maar is baie verouderd. Intussen het die Broederbond o.l.v. hul destydse leier prof. Tom de Beer hul geheime baadjie afgeskud en hulself "oopgemaak" deur te verander na die Afrikanerbond - waarvan enigiemand lid kan wees (omstreeks 2000).
Ons inligting is egter dat die oorspronklike Broederbond steeds voortbestaan - en meer geheimsinnig is as ooit tevore. Die "oopmaakproses" was 'n uitstekende geleentheid om van "ou hout" ontslae te raak - dws van al die ou lede (omies) wat nie juis meer 'n bydrae gelewer het nie.
Destyds (pre-1994, maw vóór SA se politieke oorgang)  het slegs 'n deur die kantore van die FAK (grondvloer) en die Broederbond (1ste vloer) in Pretoria geskei. Ons weet dus dat die FAK 'n blote frontorganisasie van die Broederbond was.
As mens deesdae kyk watter organisasies na Afrikanerbelange omsien - en selfversekerd en uitstekend gefinansierd andere links en regs hof toe sleep - dan hoef mens nie ver te gaan soek vir die huidige Broederbond (post-2000, maw ná die Broederbond se "oopstelling") se frontorganisasies nie.
Leave a comment:

Guidelines for comments

  1. We want our pages to be thought-provoking, though pleasant and edifying reading material for our visitors.
  2. We walk in the light of the Kingdom of Heaven, are known in person to everybody out there - and we expect the same from you.
  3. Short, sensible, fair, to the point comments are most welcome and will take preference.
  4. Long-winded comments clutter our pages and will only be published in exceptional cases. The same accounts for anonymous or rude comments.
  5. Once your comment has been successfully submitted, you will receive an email at the email address you specified. You must click the link in the email before your comment will be visible on the page.
I understand
Bold [ctrl+b]
Italic [ctrl+i]
Underline [ctrl+u]
Strike
Superscript
Subscript
• Unordered list
1. Ordered list
Remove Format