Kundalini (Afr)

by Eben Swart 21 Jun 2010 Download prayer in PDF format
'n Belydenis- en Verloëningsgebed vir diégene wat betrokke was in Rooms Katolisisme, Hindoeïsme, Boeddhisme, Joga, Oosterse Gevegskunste, Vrymesselary, Rosicrucianisme, Visualisasie, New Age, Mediese Praktyk en Alternatiewe Genesingsmetodes, Spa-behandelings, Kaballa, Passiewe Meditasie, Charismatiese Kerk en Toronto-tipe dienste, Christelike "soaking"-byeenkomste.


Kundalini: Gebed van Belydenis


Vader, ons verskyn voor U troon in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, Yahushua ha Mashiach, om belydenis te doen van ons eie oortredinge, sonde en ongeregtighede, sowel as dié van ons voorouers. Ons neem as fondament U Skrif wat sê:

As ons ons sondes bely - Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. (1 Joh. 1:9)

Vader, in verband met die Kundalini bely ons dat ons, sowel as ons voorvaders sonde gedoen het. Ons erken dat ons, sowel as ons voorvaders daarvan bewus was dat U sonde en ongeregtigheid nie sondermeer vergewe nie, en dat U dit toereken aan die derde en die vierde geslag van dié wat U haat deur U gebooie te oortree.
En nogtans het ons en ons voorvaders U nie vertrou nie, en U nie geglo nie. Ons het die begeertes van ons eie vlees gevolg en by ander gode gaan hulp, krag en energie soek, en so vreemde gode aanbid. Ons bely dat ons en ons voorouers skuldig is aan afgodery.

Vader, ons bely dat ons en ons voorouers nie aan ons kinders u verordeninge en insettinge geleer het as hulle staan en as hulle sit nie, tydig en ontydig nie. Ons bely dat ons as gevolg van ons ontrouheid in hierdie verband nie U wil geken het nie, en dat ons die veilige grense wat U vir ons gestel het, as gevolg daarvan soms onwetend, maar ook moedswilliglik oorskry het.
Ons bely dat ons in ons onkunde gedwaal het, omdat ons U krag, en die Skrifte nie geken het nie. Daarom het ons nie die krag van Satan onderskei nie, en dit selfs dikwels die krag van U Heilige Gees genoem.
In ons onkunde was ons beïndruk met die krag en belonings van Satan, en het daarom by die losies van Geheime Organisasies en die Rooms-Katolieke Kerk aangesluit. So het ons ons geboortereg verkoop. Ons bely dat ons hierdeur 'n vloek op ons eie koppe, en die koppe van ons kinders en hulle kinders laat afkom het.
Ons bely dat ons en ons voorouers in hierdie Losies en Organisasies die Geheimenisse van Babilon geleer het - die diep geheimenisse van die Satan. En ons bely dat hierdie onderrig en beoefening van hierdie leer die Saad van Satan in ons DNA wakkergemaak het.
Ons bely dat ons en ons voorouers hierdie krag van Satan, die Kundalini-slang, tot ons eie voordeel ingespan het om toegang tot bonatuurlike krag en energie te verkry, om geld en vriende te maak, en helaas, dat ons dit via ons geestelike leiers in die gemeenskap van gelowiges, die ekklesia, ingedra het.
Ons bely dat ons illuminasie nagejaag het, dat ons self ons eie god wou wees, dat ons wou evolusioneer na hoër vlakke as andere rondom ons.
Ons bely dat ons hiermee die geestelike eenheid van die ekklesia verbreek het, omdat ons meer lojaal was aan die eenheid wat geaktiveerde Kundalini in die broederskappe van ons losies en organisasies bewerk het, as aan die broederskap van U Koninkryk deur die Heilige Gees. Ons bely dat ons en ons voorvaders ons lidmaatskap van hierdie losies en organisasies vir ons broers in Christus geheim gehou het, en in die geheim die Kundalini-krag die ekklesia binnegedra en laat opereer het.

Ons bely dat ons in die gemeenskap van gelowiges onsself aan sommige van die doktrines van hierdie leer van Satan onderwerp het - spesifiek aan die leer wat lui dat 'n Babiloniese waterritueel (die kinderdoop), en nie die stort van bloed nie, ons insluit in U verbond met Abraham. Ons bely dat ons duisende mense met hierdie leuen (die stroom water wat die Kundalini-draak in Openbaring agter die vrou aanspuug) onder die indruk gebring het dat hulle gered is van sonde - terwyl hulle nie is nie. Ons bely dat ons U Heilige Gees ook hiermee bedroef en uitgeblus het, deurdat Hy nie U wet op sulke mense se harte kon skryf nie.
Ons bely ook dat die leer van Uitverkiesing, soos geleer deur priesters van die Babiloniese Geheimenisse, lui dat mense nie nodig het om 'n wilskeuse vir Jesus te maak nie - aangesien hulle reeds deur kinderdoop in U verbond met Abraham ingesluit is. Ons bely dat ons en ons voorvaders onsself aan hierdie gruwel-leer onderwerp het.

Ons bely ons ongeloof in U deurdat ons staatgemaak het op die sisteme en stelsels van Babilon vir ons lewe, gesondheid en onderhoud. Ons het hierdie stelsels gekies as ons sekerheid, en vir U en U insettinge en verordeninge verwerp. Ons bely dat ons nie weet hoe om deur geloof te lewe nie.

Ons bely dat ons onsself onderwerp het aan eredienste waar die Kundalini-energie vryelik geopereer het, en dat ons dit nie onderskei het nie. Ons bely dat ons nie sg. "geestelike leiers" hieroor tot orde geroep het nie, nie hul valse geestelike gesag onderskei het nie, en hul leer klakkeloos aanvaar het.
Ons bely dat ons toegelaat het dat die Kundalini-krag in 'n groot mate die ware krag van die Heilige Gees uit die Kerk verdryf het. Ons bely dat ons veroorsaak het dat die Heilige Gees uit eredienste waar hierdie krag geopereer het, onttrek het. Dat ons die Heilige Gees bedroef en uitgeblus het.
Ons bely ons begeerte en sug na 'n "aanraking" deur Kundalini-energie. Ons bely ons sinlike bevrediging wanneer dit ons wél aangeraak het. Ons bely dat ons genesing vir ons liggame, groter en dieper spiritualiteit, selfwaarde en eer van die Kundalini afgebid het.

Ons bely dat ons onsself onderwerp het aan die simbool van die Geheimenisse, die dissipline van Hermetesisme, die caduceus - die staf van Hermes. Ons bely dat ons dit gekies het as banier oor alle mediese sake, en sodoende alle mediese kennis en praktyk onder die invloed en gesag van Hermes, die Kundalini, geplaas het.
Ons bely dat ons hierdie bonatuurlike invloede ingespan het om die bevolking van die aarde onder voortdurende chemiese bedwelming te plaas, op 'n skaal wat met verloop van tyd grootliks sal meehelp tot 'n globale alternatiewe kollektiewe bewussyn.

Ons bely dat ons en ons voorvaders betrokke geraak het by allerhande Kundalini-praktyke, en dat ons ons kinders hierin aangemoedig het:
Joga, Oosterse gevegskunste, Refleksologie, Reiki, I Ching, New Age, energiebehandelings, balanseringsbehandelings, passiewe meditasie, asembeheer, Boeddhisme, Hindoeïsme, Sufiïsme, Alchemie, Sjamanisme, Hermetesisme, Chiropraktyk, Rockmusiek, Kaballisme.

Ons bely dat ons ons eie liggame onteer het met seksuele gruwels ten einde die Kundalini wakker te maak of sensueel te laat opereer. Ons bely dat ons generasie seksbehep is, dat onsself en vele godsdienstige en kerkleiers seksueel onreine lewens lei, en dat dit nodig is dat ons moet veg vir ons kinders se seksuele reinheid.

Vader, in Jesus Naam bid ons dat U ons sal vergewe vir hierdie oortredinge en sonde. Ons vra dat U ons sal reinig van ons oorgeërfde, sowel as ons eie ongeregtighede. Ons kies dat U U wet op ons mees innerlike vlees sal skryf. Ons kies dat U die woorde van Satan in ons vlees sal uitwis.

Hiervoor gee ons aan U die eer, in Jesus Naam.

Amen

Kundalini Verloëningsgebed

Die Saad van Satan en die Kathulu


In Jesus Naam verloën ek die saad van Satan, sowel as die saad van die seuns van God van Genesis 6. Ek bely dat hierdie engele (ook bekend as die Kathulu) reeds deur God veroordeel is, en met onbreekbare kettings onder die aarde vasgebind is, en dus nie hul dade met die dogters van mense kan herhaal nie.
Ek glo dat God dié wat regverdig is in hul generasies, soos Noag, spaar. Ek glo dat die Heilige Gees deur die gelowige doop God se wet op my innerlike vlees skrywe, deurdat ek glo in Jesus Christus, Yahushua ha Mashiach, en Hom as my Redder en Heer aanvaar het. Ek glo dat daar in die Koninkryk van God geen plek is vir gemengde saad nie - dat God wel toelaat dat twee soorte saad op aarde saam groei, maar dat gemengde saad uit die gemeenskap van gelowiges, die ekklesia, geweer moet word.
In die Naam van Jesus verloën ek enige verbonde met, en sny myself en my kinders los van die saad van Satan en die Kathulu. Ek verklaar dat ek in alle ewigheid niks daarmee te doen wil hê nie, en verklaar 'n genetiese egskeiding tussen myself en sodanige saad.
Vader, in Jesus Naam vra ek dat U my DNA en saad sal reinig om ware saad van die Koninkryk te wees. Ek bid dat U my saad sal seën vir duisende geslagte, omdat ek U liefhet en U gebooie onderhou.

Babilon, die Draak, die Hoer en die Geheimenisse


In die Naam van Jesus verloën ek die geestelike Babilon van Openbaring 17 en 18, en die Hoer van Babilon. Ek verloën die vurige draak met sewe koppe en tien horings. Ek verloën die Toring, geheime lering, towerkrag, krag van verleiding en misleiding van die Geheimenisse van Babilon, die diep geheimenisse van Satan, en hul ganse inhoud.
In die Naam van Jesus verloën ek vir Nimrod, die goddelose agterkleinseun van Noag en al sy name in ander tale en kulture. In die Naam van Jesus verloën ek ook vir Semiramis, sy losbandige vrou, en al haar name in ander tale en kulture.
In die Naam van Jesus verloën ek die godsdienstige stelsel wat hulle ontwerp het, met sy towerkuns, metallurgie, chemie, astrologie, bedwelming, alternatiewe bewussyn, illuminasie, aggressie, sensualiteit, kristallogie, waarsêery, en son- en maanaanbidding.
In die Naam van Jesus verloën ek enige verbonde met, en sny myself en my kinders nou los van Babilon se Toring en sy Geheimenisse. Ek verloën enige verbonde met, en sny myself los van Nimrod, Semiramis, die vurige draak en die die Hoer. Ek verklaar dat ek in alle ewigheid niks met hulle te doen wil hê nie.
Vader, ek bid dat U U Woord in my sal vestig en dat die gawes van U Heilige Gees deur my sal opereer, tot eer van U Naam en tot uitbreiding van U Koninkryk.

Die 4 elemente, sterre, konstellasies, die son en die maan.
Energie.


In die Naam van Jesus verloën ek die 4 esoteriese elemente: Aarde, water, lug en vuur. Ek verloën die krag en invloede van die konstellasies van die diereriem en alle ander konstellasies en sterre. Ek verloën die krag van die son, die songod, en Sirius, die hondster. Ek verloën die krag en invloed van planete en komete. Ek verloën die krag en invloed van die maan, die maangodin en alle ander satelliete.
In die Naam van Jesus verloën ek enige verbonde met, en sny myself en my kinders nou los van die krag en invloede van die 4 elemente, sterre, planete, komete, die son en die maan.
In die Naam van Jesus verloën ek alle meetbare en onmeetbare energie wat ek in die verlede van bogenoemde ontvang het. Ek verklaar dat my enigste bron van energie die Lewe van Jesus Christus is, soos vergestalt in die drink van sy bloed, wat Sy lewe simboliseer, in die nagmaal. Ek verklaar dat Sy lewe, deur Sy Heilige Gees, my enigste bron van energie is, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons (Hand. 17:28).
In die Naam van Jesus verloën ek enige verbonde met, en sny myself en my kinders nou los van enige sodanige okkultiese energie en energiebronne.
Vader, ek bid dat U my enigste bron sal wees, en dat ek as regverdige voor U deur die bloed van Jesus, deur geloof sal lewe.

Die Boom van die Lewe, Karma en Reïnkarnasie


In die Naam van Jesus verloën ek die filosofie dat die menslike sentrale senuweestelsel die boom van die lewe is, 'n simbool daarvan is of daarmee ooreenstem. Ek verklaar dat hierdie filosofie onversoenbaar is met die Skrif, wat verklaar dat die hemelse boom van die lewe bewaak word deur 'n engel met 'n vlammende swaard. Hierdie filosofie is 'n LEUEN.
In die Naam van Jesus verloën ek die filosofie van karma en reïnkarnasie. Ek verklaar dit 'n LEUEN van Satan, en in werklikheid gebaseer op die verskynsel van demoniese sielskopieë.
In die Naam van Jesus verloën ek die geeste van my voorvaders, alle herinneringe aan vorige lewens en deja vu-ervarings.
In Jesus Naam verloën ek alle verbonde met, en sny ek my en my kinders los van hierdie filosofieë, gedagtepatrone en praktyke. Ek sny my los van enige vorige lewens en enige herinneringe daaraan.
Vader, help my asseblief om die waarheid lief te hê - die waarheid wat my vry maak, sodat ek nie die leuen sal glo en verlore gaan nie.

Die Chakras


In die Naam van Jesus verloën ek die krag en aktiwiteit van my sewe chakras, soos ingespan in die okkult.
In die Naam van Jesus verloën ek alle elemente, metale, kleure, konstellasies en geografiese plekke op die aarde waaraan my chakras verbind is. In die Naam van Jesus sny ek myself en my kinders met die swaard van die Gees los van hierdie elemente, metale, kleure, konstellasies en geografiese plekke.
Ek verklaar dat dit my wens is dat hierdie chakras sal optree, en in die toestand sal wees waarin God hulle geskep het, en NIE in die toestand van aktivering vir die Kundalini nie. Ek maak 'n wilskeuse dat my chakras NIE okkultiese of sielsenergie sal ontvang, stoor, verbruik of uitgee nie. In Jesus Naam maak ek 'n wilskeuse dat my chakras sal ophou tol, tot stilstand kom, verdof en sluit soos 'n blom teen sononder.
Ek maak 'n wilskeuse dat my derde oog tussen my wenkbroue sal sluit, en sny myself en my kinders in Jesus Naam los van die vermoë om dinge in die geesrealm waar te neem, of daarvan bewus te wees, mbv my derde oog.
Ek maak 'n wilskeuse dat my kroon-chakra sal sluit, en dat ek die vermoë sal verloor om daardeur in te skakel op die globale kollektiewe bewussyn. Ek maak 'n wilskeuse om BUITE hierdie kollektiewe bewussyn te staan, omdat ek kies om deur die Heilige Gees beheers te word. In Jesus Naam sny ek myself en my kinders los van die krag en simboliek van die feniks of dondervoël - die simbool van illuminasie en hoër (kollektiewe) bewussyn.
Vader, ek kies dat U Heilige Gees my gedagtes daagliks vernuwe. Ek bid dat U my chakras sal sluit tov energie-oordrag, en sal herstel tot die toestand waarin U hulle geskape het, en dat hulle slegs dié rolle sal speel waarvoor U hulle bestem het. Ek bid ook dat u my endokriene kliere en -sisteem in die geesrealm sal lossny van die chakras, en hulle sal herstel tot gesondheid en hul oorspronklike toestand.

Yogi's, Swami's, Ghoeroes, Meesters en "Profete"


In die Naam van Jesus verloën ek enige persone wat as my geestelike begeleiers opgetree het op pad na illuminasie. Ook hulle wat in Jesus se naam die Kundalini se invloed oor my laat geld het in kerke en sinagoges. In Jesus Naam verloën ek hul Kundalini- en energieleringe en -praktyke, hul boeke, hul videomateriaal en invloed op my gedagtes en lewe.
In Jesus Naam verloën ek enige verbonde met, en sny my en my kinders los van sodanige persone se leringe en invloed.
In Jesus Naam verklaar ek 'n egskeiding tussen myself en hierdie persoon of persone, en verklaar dat ek in alle ewigheid niks weer met hul lering of invloed te doen wil hê nie.
Vader, ek bid dat die swaard van U Gees tussen my en hierdie persoon of persone sal sny, ook alle emosionele verbintenisse, sodat ek aan U alleen verbonde sal bly.

Joga, Meditasie, Jin en Yang


In die Naam van Jesus verloën ek alle joga-filosofie, joga-oefeninge, joga-posisies en joga-dissipline. Ek verklaar dat joga 'n misleidende dissipline is, gemik daarop om die Kundalini te aktiveer en te laat opereer. In Jesus Naam verloën ek enige verbonde met joga, en sny my en my kinders los van joga en die slegte vrugte daarvan.
In die Naam van Jesus verloën ek die filosofie, praktyk en dissipline van passiewe meditasie en asembeheer. Ek verloën die lotus-posisie en alle mantras - spesifiek die woord "aum" en ook "Christelike" mantras soos "more, Lord", "receive" en herhalende mantras in "tale". In Jesus Naam sny ek myself en my kinders los van die effekte en invloede van meditasie, asembeheer en mantras.
In die Naam van Jesus verloën ek die toorkuns-filosofie van die Jin en die Yang, van manlik en die vroulik, Ida en Pingala, hemel en aarde, en teenoorgesteldes wat moet verenig om "magic" teweeg te bring. Ek verloën die jin-jangsimbool en sg. Dawidster wat die vereniging van teenoorgesteldes uitbeeld. Ek verloën spesifiek die vereniging van manlik en vroulik (of troue tussen die prins en prinses; of koning en koningin) wat geslagsverwarring teweegbring. Ek verloën die androgene mens en alles wat dit simboliseer. Ek sny my en my kinders los van al hierdie simboliek en die invloede en effekte daarvan.
Vader, ek bid dat U my verstand sal reinig van al bg. filosofieë en praktyke. Ek kies om beheers te word deur die Heilige Gees (Ruach ha Quodesh), en om via Christus een te wees met die res van Sy liggaam.

Rooms-Katolisisme, Vrymesselary en Kaballa


In die Naam van Jesus verloën ek die lering, strukture, ampte, sakramente en gesag van die Rooms-Katolieke Kerk - die hedendaagse priesterdom van die Babiloniese Geheimenisse. Ek verloën my kinderdoop as 'n Babiloniese doktrine, 'n onbybelse verbond van water (ipv bloed) wat met die Hemelkoningin, ipv God die Vader, gesluit word. In Jesus Naam verbreek ek nou hierdie verbond, asook die seël daarvan wat op my voorkop (in die posisie van die derde oog) geplaas is, op grond van die bloedverbond wat ek met Jesus het in die Heilige Nagmaal. Ek verklaar 'n egskeiding tussen my en die Hemelkoningin, en sny myself en my kinders los van haar en haar invloed in Jesus Naam - vir alle tyd en ewigheid. Ek verklaar dat ek 'n kind is van God die Vader, die God van Abraham, Isak en Israel, en dat ek NIE 'n kind is van die Hemelkoningin, voortgebring uit haar waterige baarmoeder nie. Ek verklaar dat ek en my kinders in alle ewigheid niks met die die effekte en invloed van die Rooms-Katolieke Kerk ooit te doen wil hê nie.
Ek verloën die priesterdom van geheime organisasies, en spesifiek Vrymesselary, hul strukture, lering, simbole, werktuie, rituele, ede, broederskap en inisiasies in die Naam van Jesus. Ek verloën die Kundalini (genoem Bafomet of Hiram Abiff) - die draak met sewe koppe en tien horings van Openbaring, en die Hemelkoningin (die arme weduwee van Vrymesselary) - die hoer wat op die draak ry. Ek verbreek alle Vrymesselaarsvloeke wat oor my uitgespreek is deur my voorgeslagte in Jesus Naam - spesifiek die Lewisvloek van armoede en sterfte. Ek verklaar 'n egskeiding tussen myself en Vrymesselary, verbreek alle verbonde daarmee in Jesus Naam, en verklaar dat ek en my kinders in alle ewigheid niks met die effekte of invloed van Vrymesselary te doen wil hê nie. Hiermee sny ek myself en my kinders dus in die Naam van Jesus los van die vloek van Vrymesselary - vir alle tyd en ewigheid.
Ek verloën Joodse mistisisme en die Kaballa in Jesus Naam. Ek verloën die lering, denkwyses, metodes, rituele, heilige geskrifte soos die Zohar, strukture, ede en simbole van die Kaballa. Ek verklaar dat die lering van Kaballa 'n vermenging van Judaïsme en die Babiloniese Geheimenisse is, verbreek alle verbonde daarmee in Jesus Naam en sny myself en my kinders los van die sg. Boom van die Lewe, of sefiroth, van die Kaballa.
Vader, ek bid dat U my sal leer hoe U orde werk, hoe dit inmekaarsteek en hoe die meganismes daarvan opereer. Ek begeer om myself in lyn te bring met U orde - nie die orde van die wêreld nie.

Hermes, Mercurius, Thoth.
Medies en Caduceus.


In die Naam van Jesus verloën ek die valse heilige gees - die Griekse god Hermes, die Romeinse god Mercurius en die Egiptiese god Thoth. In Jesus Naam verloën ek die kennisveld van Hermetesisme - van Heilige Geometrie, Simboliek, Allegorie, Numerologie, en alle toorkuns mbv die jin en jang. Ek verloën die geestelike interpretasievermoëns van Hermes, asook die gees van die stelsel van bybelinterpretasie wat na hom vernoem is (Hermeneutika). Ek verklaar dat hierdie sisteem van Bybelinterpretasie onvolmaak is, net soos Hermes onvolmaak is, en aanleiding gee tot gruwelike dwalings.
In die Naam van Jesus verloën ek die simbool van die Geheimenisse, die staf van Hermes - ook bekend as die Caduceus (uitgespreek: ka-doe'-she-us). Ek verloën die simboliek van die ruggraat (die staf self), die pituïtêre klier (die knop van die staf), die twee ineengestrengelde slange (die Ida en Pingala) in die vorm van die DNA-heliks en die vlerkies wat astrale projeksie voorstel. In die Naam van Jesus verbreek ek alle verbonde met, en sny my en my kinders los van hierdie staf en sy simboliek. In Jesus Naam sny ek myself en my kinders ook los van die biologiese, emosionele en geestelike effekte of invloed vanuit die okkult op enige mediese behandeling wat ons al onder hierdie simbool ondergaan het.
Vader, ek vra dat U die bloed wat onder die mes van medici uit my liggaam gevloei het, sal stilmaak, en enige verbond wat ek sodoende met Hermes of die Kundalini gesluit het, sal verbreek in Jesus Naam. My begeerte is om net vir U te dien, en net met U (en my eggenoot) in 'n verbond te staan.

Die Sentrale Senuweestelsel


In die Naam van Jesus verloën ek die drie kanale waarin die Kundalini wakkergemaak word:
Die Ida (vroulik), die Pingala (Manlik) en Sushumna (gesamentlik). Ek verklaar dat ek in alle ewigheid niks te doen wil hê met die energieë of gebeure wat die Kundalini aktiveer nie - spesifiek nie die energie vanuit die aarde (vir die Ida), of die energie vanaf die hemele (vir die Pingala) nie. Ook nie die energieë van die vier elemente nie.
In die Naam van Jesus verloën ek alle Kundalini-inmenging met, en effekte op my sintuie se perseptuele waarnemingsvermoëns. In Jesus Naam gee ek elke "gawe" of vermoë wat ek van die Kundalini ontvang het, aan hom terug, en verklaar dat ek of my kinders in alle ewigheid nooit weer iets daarmee te doen wil hê nie. Ek maak 'n wilskeuse dat GEEN ander geestelike energie as die energie van die Heilige Gees, Ruach ha Qudesh, deur my liggaam sal vloei nie.
Vader, ek vra in Jesus Naam dat U hierdie drie kanale vir die Kundalini sal sluit deur U Heilige Gees wat in my woon. Ek bid dat U hierdie 3 kanale sal herstel tot hul oorspronklike toestand. Ek bid dat U hulle sal reinig van alles van die Kundalini waarmee hulle bevuil is. Ek bid dat U my sentrale senuweestelsel normaal sal laat funksioneer - dat senuprikkels en -boodskappe normaal deur my elektriese stelsel sal vloei.
In Jesus Naam dra ek al 5 my sintuie op aan Jesus Christus: My sig, my gehoor, my reuksintuig, my smaaksintuig en gevoel. Vader, ek vra dat U my sintuie sal reinig van alle ongeregtigheid.

Die Kundalini


In die Naam van Jesus verloën ek die Kundalini en al sy ander name:
Mercurius, Hermes, Thoth, Ureaus, Chi, Ki, Shakti, Shiva, Prana, St. George, St. John, Die Groen Man, Esprit, Elan, Vital, Orgone, Bafomet, Hiram Abiff, Baraka, Loosh, Vuurslang (fire serpent), Vuurdraak, heilige vuur, shekinah, heilige gees.
In Jesus Naam verbreek ek alle verbonde van bloed, vlees, water, vuur, aarde, lug, seks, trauma en energie met die Kundalini, en plaas dit onder die bloed van Jesus.
Ek verklaar dat Kundalini die saad van Satan en sy gevalle engele verteenwoordig, maar dat die God van Abraham, Isak en Isreal Sy saad in my gedeponeer het deur Sy Heilige Gees.
Ek verklaar in Jesus Naam dat die Kundalini 'n vals heilige gees, en vals manifestasies, wonderwerke, krag en energie verteenwoordig. Ek verklaar dat die Kundalini nie deel is van die Koninkryk van die Hemele nie, en dat hy bestem is vir die verderf. Ek verklaar in Jesus Naam dat die Kundalini sal eindig in die poel van vuur wat bestem is vir die ongehoorsames wat klaar veroordeel is weens hul ongeloof, en vir wie genadetyd vir ewig verstryk het. Ek verklaar in Jesus Naam dat die vurige aard van die vurige draak hom niks sal baat wanneer hy in die poel van vuur gewerp word nie, maar dat hy dan vir ewig uit sy skuilplek verdryf sal word soos wat droë gras wat aan die brand gesteek word, 'n slang laat vlug uit sy skuilplek.
Kundalini, ek verklaar nou in Jesus Naam dat jy GEEN reg meer op my lewe, liggaam, siel of gees het nie. Daarom beveel ek jou nou in JESUS NAAM om my lewe, liggaam, siel en gees NOU te verlaat! Ek beveel jou in Jesus Naam om jou totale lengte, van kop tot stert, uit my liggaam, siel en gees te trek.
Daarom, Vader, vra ons dat U nou in Jesus Naam U heilige vuur vanuit die hemel sal stuur om die Kundalini uit sy skuilplek binne ons liggame te verdryf.

Bevryding.
Scroll down to comments
Leave a comment:

Guidelines for comments

  1. We want our pages to be thought-provoking, though pleasant and edifying reading material for our visitors.
  2. We walk in the light of the Kingdom of Heaven, are known in person to everybody out there - and we expect the same from you.
  3. Short, sensible, fair, to the point comments are most welcome and will take preference.
  4. Long-winded comments clutter our pages and will only be published in exceptional cases. The same accounts for anonymous or rude comments.
  5. Once your comment has been successfully submitted, you will receive an email at the email address you specified. You must click the link in the email before your comment will be visible on the page.
I understand
Bold [ctrl+b]
Italic [ctrl+i]
Underline [ctrl+u]
Strike
Superscript
Subscript
• Unordered list
1. Ordered list
Remove Format