Kinderdoop (Afr)

by Eben Swart 8 Apr 2013 Download prayer in PDF format
Gebede van Belydenis en Verloëning vir diegene wat as babas gedoop is, of hul kinders as babas laat doop het.

Gebed van Sondebelydenis
(Soos op "Die Gelowige Doop"-DVD)


Vader, ons verskyn voor U in die Naam van Jesus van Nasaret, U Seun wat in die vlees na die aarde gekom het om U verbondsbeloftes te vervul. U sê in die Skrif dat as ons ons sondes bely, is U getrou en regverdig om ons dit te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig - (1 Joh. 1:9). Daarom bring ons nou die volgende sake voor U regterstoel en bely dit voor U met opregte berou:

Vader, ons bely ons onkunde oor en gebrek aan belangstelling in U verbond. Ons bely dat ons besef het dat ons onkundig is, maar die verantwoordelikheid om hieroor tot kennis te kom namens onsself aan andere oorgelaat het.

Ons bely dat ons deur nagmaal te gebruik, U verbondstekens gebruik het - sonder om ooit die moeite te doen om self na te speur wat U verbondsklousules behels. Sodoende het ons U verbond misverstaan, en dit keer op keer verbreek.

Ons bely dat ons in eie krag die vereistes van die klip-Torah probeer nakom het, ipv om in geloof na U Heilige Gees se stem te luister. Ons bely ook ons traagheid om te leer hoe die Stem van U Heilige Gees klink, sowel as ons traagheid om op Hom te wag.

Ons bely ons onkunde oor die doop - dat ons ‘n heidense waterritueel op gelyke vlak met U bloedverbond gestel het. Ons bely dat ons nooit die betekenis van die doop ondersoek het nie, en te midde van ons bewustelike onkunde selfs ons eie weerlose kinders aan hierdie heidense ritueel onderwerp het.
Ons bely dat ons, te midde van ons eie onkunde, onbesonne gedagtes van meerderwaardigheid en groter kennis gekoester het teenoor diegene van ander oortuigings wat hulself as gelowiges laat doop het.
Ons bely dat ons en ons ouers in onkunde en misplaasde vertroue in kerkleiers en hul teologie as geestelike voogde namens ons kinders via die babadoop ‘n okkultiese verbond gesny het tussen hulle en ‘n demoniese owerheid. Ons bely dat ons hierdie verbond deur die betrokke demoniese owerheid laat beseël het - en onsself sodoende onder hierdie owerheid se gesag gestel het.
Ons bely dat ons en ons ouers deur die ritueel van die babadoop geestelike deure oopgemaak het vir watergeeste om ons en ons kinders te teister, bind en beset. Ons bely dat ons betrokkenheid by hierdie owerheid en watergeeste ‘n geestelike sluier oor ons oë getrek het - wat ons verblind het - sodat ons nie geestelike dinge kon insien of konseptualiseer nie.
Ons bely dat ons geheul met hierdie owerheid ons en ons kinders oopgestel het vir daardie sondes wat algemeen as die domein van die Hemelkoningin beskou word. Ons bely dat ons swakheid vir hierdie sondes agv die babadoop dikwels daartoe gelei het dat:

Christene se huwelike verbrokkel het.
Christenmans en -vroue gevang is deur pornografie.
Christene vasgevang is in gaywees en lesbianisme.
Christenpaartjies nie kon kinders nie.
Vroueprobleme mense se gesondheid knak.
Bedieninge gekelder is deur die Jesebel-gees.
Ons kinders gevang is deur dwelms en die okkult.
Ons mans gevang is deur Vrymesselary en die najaag van geld.
Moord gepleeg is.

Vader, ek vra dat U my en my voorgeslagte in die naam van Jesus vergewe vir al ons onkunde en sonde.

Ek bely dat my geesmens deur geloof in Jesus wederbaar is - deurdat ek saam met Jesus gesterf het - en my hart sodoende besny is toe Jesus U instruksies op my hart in my vleesmens geskryf het.
Ek bely dat U vir my ‘n nuwe geesmens saam met Jesus uit die graf opgewek het en ek sodoende uit die God van Abraham, Isak en Israel gebore is.
Ek bely dat hierdie proses pragtig versimboliseer word deur die onderdompelingsdoop van gelowiges en dat ek daardeur my diepe identifisering met Jesus se dood op Golgota en sy opstanding uit die graf van Josef in die openbaar bely.

Daarmee bely ek saam met Paulus:

Al wat ek wens, is om Christus te ken,
die krag van sy opstanding te ondervind
en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood,
in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.

- Fil. 3:10 - 11.

Dankie, Jesus, dat U deur U gehoorsaamheid tot die dood ‘n ontsnappingsroete geskep het wat ons red uit al die benoudhede waarin ons onsself begewe het. Was my en my kinders asseblief skoon van enige vuilheid wat aan ons kleef agv die babadoop.
Ons prys U naam!
Amen.

Babadoop-verloëningsgebed

(Hierdie gebed moet verkieslik gebid word NADAT ‘n persoon homself
as gelowige
deur onderdompeling
laat doop het en bostaande verloëningsgebed gebid het).


In die Naam van Jesus van Nasaret wat in die vlees na die aarde gekom het verloën en verwerp ek (en my kinders) die doopleer van Augustinus, die Roomse Kerk, Origenes, Irenius, Ciprianus en Calvyn.
Ek verloën en verwerp ook die Calvinistiese uitverkiesingsleer soos geformuleer op die Sinode van Dordrecht - wat as motief vir hierdie doopleer dien.
Ek bely dat ek in Christus uitverkies is (Ef. 1:4) en dat God se uitverkiesing buite die beperkinge van lineêre tydsverloop en oorsaak-en-gevolg (kousaliteit) staan. (Ef. 1:4)

Die bewys van my uitverkiesing is te vind in die kragtige werking van die Heilige Gees binne my (Hand. 15:8 - 9) deur die hoor van Sy stem, (Joh. 10:27) die dra van Sy vrugte, (Gal. 5:22) die manifestasie van Sy gawes (1 Kor. 12) en dat Hy my herinner aan Jesus se woorde. (Joh. 14:26)

In Jesus Naam verloën ek die leuen dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het en dat die babas van gelowige ouers dus deur die babadoop in die Nuwe Verbond ingesluit word.

In Jesus Naam verloën ek ook die leuen dat ‘n baba se hart deur geloof by die babadoop besny kan word.
Ek bely dat geen gelowige ouer selfs as geestelike voog van sy kind voor God oor die bevoegdheid beskik om namens sy kind geloof in hom/haar te bewerk of die een of ander “vooruitwerkende” doopritueel te magtig nie.

Ek bely dat die water van die doop nooit bedoel was om ‘n teken van die verbond te wees nie, maar dat dit soos die Ou Testamentiese vloed en die Rooi See dien as ‘n watergraf - ‘n graf wat ‘n skeiding maak tussen my vorige lewe en my nuwe lewe. My ou lewe was onder die gesag van “reuse” of “slawedrywers” en my nuwe lewe onder die gesag van “Noag” of “Moses” - tipes van Jesus.
Ek bely dat ek deur geloof en hartsbesnydenis in ‘n bloedverbond met Jesus Christus staan en dat die tekens daarvan nie die waterdoop is nie, maar die brood (vlees) en die wyn (bloed) van die verbondsmaal (of “nag”maal) is.

Amen.
Scroll down to comments
Leave a comment:

Guidelines for comments

  1. We want our pages to be thought-provoking, though pleasant and edifying reading material for our visitors.
  2. We walk in the light of the Kingdom of Heaven, are known in person to everybody out there - and we expect the same from you.
  3. Short, sensible, fair, to the point comments are most welcome and will take preference.
  4. Long-winded comments clutter our pages and will only be published in exceptional cases. The same accounts for anonymous or rude comments.
  5. Once your comment has been successfully submitted, you will receive an email at the email address you specified. You must click the link in the email before your comment will be visible on the page.
I understand
Bold [ctrl+b]
Italic [ctrl+i]
Underline [ctrl+u]
Strike
Superscript
Subscript
• Unordered list
1. Ordered list
Remove Format